Plaaslike staptogte

Oefen vir hiérdie plaaslike staptogte

Met soveel lekker staproetes in Suid-Afrika, vanaf maklike dagstappe waar die kleingoed kan saamkom, tot meerdaagse avonture waar jy alles op jou rug moet dra, is local altyd lekker. Hier is ’n paar goue oues waarvoor jy gerus kan oefen. 

Otter

Daar is net twee groepe stappers in Suid-Afrika: Dié wat al die Otter gestap het, en dié wat sukkel om ’n bespreking te kry. Die Otter is ’n legendariese 5-dag-staproete oor 42 km wat by Stormsriviermond begin en by Nature’s Valley eindig. Stappers noem dat dit waarskynlik nie onder die moeilikste roetes in Suid-Afrika tel nie, maar die waterkruisings, veral die grote op dag 4 by Bloukrans, sorg nietemin vir uitdagings. Jy gaan selde op gelyk paaie stap: Dit is óf op óf af. 

Bespreek: Slegs 12 mense word per keer op die roete toegelaat en plekke is sowat ’n jaar vooruit vol bespreek.

Kontak specialisedreservations@sanparks.org of skakel 012 426 5111.

Tsitsikamma

Die Tsitsikamma is ’n bielie onder die Suid-Afrikaanse staproetes en in dieselfde omgewing as die Otter – dit was die eerste amptelike staproete in die land. Stappers lê die sowat 63 km tussen Nature’s Valley en die Stormsrivierbrug af in 6 stapdae en 5 nagte. Jy kan ook ’n korter weergawe oor 2,3,4 of 5 dae doen. Die roete kronkel deur asemrowende inheemse woud, bergfynbos, oor riviere en langs die Suid-Kaapse kus. As jy ’n bietjie meer luuksheid nodig het, kan jy op hierdie roete van ’n opsionele sakvervoerdiens gebruik maak en bedags net met ’n dagrugsak stap. 

Bespreek by: 042 2811 712/ 087 158 2110 of info@mtoecotourism.co.za

Die Visrivier-canyon

Die Vis is in Namibië en daarom nie ’n plaaslike staptog nie, maar Namibië is darem vriendelike bure en hierdie staptog is baie gewild onder Suid-Afrikaners. Die roete strek oor 87 km (tussen Hobas en Ais-Ais), wat stappers gewoonlik in 5 dae aflê, maar jy kan met kortpaaie dit na 70 km verkort. Die moeilikste deel is waarskynlik op dag 1, wanneer jy sowat 10 km buite Hobas in die canyon moet afsak. Jy moet alles saamdra en daar is geen hutte of ablusiegeriewe nie. Jy bad smiddae in die rivier en slaap snags onder die sterre of in jou stapperstentjie. Groepe van tussen 3 en 30 kan geakkommodeer word. Onthou jou paspoort!

Bespreek by 021 422 3761 of stuur e-pos na ct.bookings@nwr.com.na

Wolkberg

Serala-sirkelroete in die Wolkberg-wildernisgebied is so taai soos dit kom. Die totale roete is sowat 50 km en jy gaan dit in 3 of 4 dae aflê. Hier is feitlik geen hutte en geen duidelik uitgemerkte paaie nie, sorg dus dat jy ’n kaart van die omgewing het. (Die enigste hut behoort aan die Bergklimklub van Suid-Afrika en mag slegs deur sy lede gebruik word.) Deur die loop van die 50 km gaan jy verskeie kere die Mohlapitse-rivier moet oorkruis en die Duiwel se Kneukels en Kruger se Neus moet uitklim. 

Bespreek: Jy kan nie vooraf bespreek nie. Jy daag bloot by die Serala-bosboustasie op en koop daar die stappermit.

Die Fanie Botha

Stappers praat met ontsag van hierdie staproete wat oor 75 km tussen Sabie en Graskop strek. Stappers lê dit gewoonlik in 5 dae af. Die roete, wat binne die Panorama-roete val, is in 1973 geopen en na ’n voormalige politikus genoem. Fanie se droom was glo om ’n staproete te vestig vanaf Sabie tot by die Sederberg – noem dit Suid-Afrika se weergawe van die Appalachiese roete – maar dié droom het ongelukkig nooit werklikheid geword nie. Dit wat wel gerealiseer het, is ’n epiese staptog deur plantasies, verby watervalle en oor talle rivierkruisings. Jy slaap in netjiese stappershutte en moet buiten jou matras en vuurmaakhout, alles saamdra. Maak jou gereed vir reën – Graskop kry meer as ’n 1000 mm reën per jaar. 

Bespreek by: 082 663 6168 of info@ecotrail.co.za

Amatola

Baie ken dalk Hogsback in die Oos-Kaap as ’n “feetjiedorp”, maar die staptog oor 100 km wat deur sy agterplaas loop, is allesbehalwe ’n Sondagskool-piekniek. Oor 6 dae gaan jy taamlik klippe kou. Op die vasbyters wag daar egter pragtige watervalle, rivierkruisings en mooi uitsigte. Jy stap immers in die omgewing wat na bewering JRR Tolkien se The Lord of the Rings-boekreeks geïnspireer het.  

Bespreek by: As jy bloot die stappermit wil koop, kontak die departement van bosbou en vissery (040 940 4839 / 084 308 6890/ amatolhk@daff.gov.za). Of bespreek ’n pakket by Amatola Trails wat jou permit, verblyf die aand voor en ná jou staptog, ’n pendeldiens na die beginpunt, parkeerplek, ’n roeteoorsig vooraf en bystand via WhatsApp terwyl jy stap insluit (072 668 602/amatolatrails.co.za).

Rim of Africa

Dis Suid-Afrika se gróte, ’n staproete wat in die Sederberg begin en 750 km verder by die Outenique eindig. As jy die hele roete stap, sal dit jou twee maande neem, maar jy kan ook net een of meer van die 9 seksies loop. Jy kan nie hierdie roete onbegeleid stap nie en daar is net een groep per jaar. Jy moet aansoek doen om keuring en verkieslik ’n ervare stapper wees. Jy moet alles saamdra (ook jou eie tent) en nuwe kosvoorraad word elke drie tot vyf dae by die groep afgelewer.

Doen navraag by: 023 614 1895 (Ninon) of besoek rimofafrica.co.za