Jou karretjie is tans leeg!

Sit hierdie epiese staptogte op jou droomlys
Wil jy gewig afskud en fiks word vir ’n werklik epiese staptog wat oor verskeie dae strek? Hier is ’n lys van die gewildste pelgrimstogte en staproetes in die buiteland.
SPANJE
Die Camino de Santiago
Verskeie roetes, waarvan sommige tot 1000 km lank is
Die pelgrimstogte wat eindig by die katedraal in Santiago de Compostela, ’n dorpie in Galicië in Spanje, is baie gewild en baie bekend. In 2022 het meer as 400 000 stappers die katedraal (die tradisionele eindpunt) bereik. Pelgrims stap al die afgelope tien eeue na dié dorp om die oorskot van die dissipel Jakobus te besoek.

Die meeste van die stappers reis op die Franse roete, wat in St. Jean Pied de Port (in Frankryk) begin. Van hier af is dit sowat 780 km tot in Santiago, wat jou 30+ dae sal neem. Die roete het uitstekende infrastruktuur. As jy nie 30 dae van die werk kan wegbly nie, oorweeg om op die dorp Léon weg te spring (330 km voor Santiago – sowat 14 stapdae), of stap die laaste 100 km van die dorp Sarria af. Onder die interessante plekke langs die pad is Pamplona, die dorp waar die jaarlikse bulstormloop plaasvind, sowel as Burgos. Op Ponferrada het ’n kasteel behoue gebly wat aan die Tempelridders behoort het.
Die Portugese roete begin in Lissabon, van waar dit 620 km tot in Santiago is. Van Porto af is dit 250 km tot by die einde. Die dorp Pontevedra is ’n hoogtepunt.
Pelgrims op die Noordelike Camino (Del Norte) spring in Irún weg, van waar dit 824 km tot in Santiago is. Die roete word ook die Camino de la Costa (die kusroete) genoem, en neem jou deur pragtige Spaanse dorpe en stede soos San Sebastian (met verskeie Michelin-ster-restaurante), Bilbao, Santander en Gijón. Dis glo die roete wat destyds deur die Europese koninklikes gestap is. Kies dié roete as jy ’n fisieke uitdaging soek. Dis naas die Primitivo die Camino waar jy die meeste berge gaan oorsteek!
Camino Inglis spring by Ferrol of Coruna weg, en is net 119 km lank. Dié roete word ook sedert die Middeleeue gestap, toe Ferrol en Coruna twee belangrike hawestede was. Dis ’n stil roete en die groenste van al die Camino’s. Kies hom as jy regtig wil wegkom van alles en almal.
Die “primitiewe roete”, oftewel Camino Primitivo, is die eerste Camino-roete wat gestap is en spring in Oviedo weg (313 km vanaf Santiago). In 813, kort nadat die graf van Jakobus gevind is, het Alfonso II, die koning van Galicië, van die dorp Asturias na die graf gestap. Met sy aankoms het die koning opdrag gegee dat ’n katedraal gebou word waar die oorskot begrawe kon word. Die hedendaagse katedraal staan steeds op daardie terrein. As die geskiedenis van die Camino vir jou belangrik is, stap dié roete. Die ommuurde stad Lugo met sy pragtige argitektuur is ’n hoogtepunt.
Camino Invierno word ook die winterroete genoem en spring by Ponferrada weg (262 km tot in Santiago). Dit loop min of meer in dieselfde streek as die Franse roete, maar kronkel deur die Sil-vallei om die bergreekse tussen Ponferrada en Santiago uit te sny. Dit was nodig in die Middeleeue omdat die berge onbegaanbaar is in die winter, wanneer dit sneeu. Pelgrims het taamlik onlangs eers hiervan bewus geword toe hulle afkom op eeue oue dokumente van ’n biskop van Astorga, wat die winterroete beskryf. Omdat dit eers onlangs herontdek is, is daar min pelgriminfrastruktuur, wat
jou sal dwing om skofte van rondom 30 km tussen dorpe te loop. Dit sal egter ’n stil roete wees, as jy bang is dat die tradisionele roetes te besig geraak het.
Teen 960 km is die Via de la Plata, wat in Seville wegspring, een van die langste Camino’s. Dit word ook die “silwerroete” genoem omdat dit eeue gelede ’n handelsroete vir veral metaalhandelaars was wat die suide en die noorde van die land met mekaar verbind het. Van die dorp Astorga af volg dit dieselfde pad as die Franse Camino, of jy kan afwyk van die roete en dit met Camino Sanabres kombineer. Dit loop langs verskeie geskiedkundige terreine en word aanbeveel vir diegene wat ’n outentieke Camino-ervaring wil hê.
Die Sanabres-roete, wat ook as die Mozarabiese Roete bekend is, is ’n alternatief tot die Via de la Plata en spring by Granja de Moreruela weg. Van daar af is dit nog 367 km tot in Santiago. As jy dus in Granja de Moreruela of Ourense kom, kan jy besluit of jy wil voortgaan op die Via de la Plata en of jy die Sanabres-roete wil volg. Dit volg vir groot dele die ou Romeinse paaie. Ourense is ’n spa-stad, waar jy ’n ekstra nag kan deurbring om jou seer lyf te dokter.
As jy ’n nóg langer roete wil volg, stap die Camino Levante, wat in Valencia begin en oor die 1300 km strek. Waar Camino del Norte die “noordelike roete” is, staan hierdie pad ook as die “oostelike roete” bekend. Dit strek oor die vlaktes van La Mancha, deur Toledo en Avila tot by Santiago de Compostela. Die roete is nie goed gemerk nie en daar is min infrastruktuur – jy moet noodgedwonge lang dae tussen dorpe stap.
Daar is twee Camino’s wat nie by Santiago eindig nie. Camino Finisterre en Muxia begin by die katedraal in Santiago en eindig sowat 90 km verder by hierdie kusdorpe – Finisterre beteken “die einde van die wêreld”. Pelgrims het eeue gelede hierdie 90 km bygevoeg om skulpe te gaan optel as bewys dat hulle die pelgrimstog voltooi het. Dis ’n mooi roete. Las dit by jou Camino vir “nagereg” as jy dit kan waag om nóg tyd van die werk af weg te wees. Die kusdorp Cee, sowat 12 km voor Finisterre, is ’n hoogtepunt.
FRANKRYK
Die Codex Calixtinus, die eeue oue geskrif wat die Franse pelgrim Aymeric Picaud rondom 1140 geskryf het, noem nie net die dorpe in Spanje waarlangs die Camino loop nie, maar meld ook vier roetes wat Franse pelgrims geneem het tot by St. Jean Pied de Port aan die voet van die Pirenees. Dié roetes spring weg by Arles, Le Puy, Parys en Vézelay.
Via Tolosana (Arles-roete): Die roete (700 km) loop wes in die rigting van Toulouse, en draai dan suid sodat pelgrims die Pirenees by die Somportpas oorsteek en by Puenta la Reine in Spanje eindig. Vanaf Puenta la Reina volg dit die Franse Camino, nóg sowat 750 km tot by Santiago de Compostela.
Camino Le Puy (Via Podiensis): Hierdie roete oor 735 km is baie gewild en beeldskoon. Jy slaap feitlik elke nag in ’n ou Middeleeuse dorpie. Veral die wegspring in Le Puy word as een van die aangrypendste Camino-tradisies genoem: Pelgrims woon ’n nagmaal om 07:00 die oggend by in die katedraal, waarna die deure met groot gebaar oopgegooi word en pelgrims op hul weg gestuur word. Die roete bied die mooiste uitsigte van al die Franse staproetes, maar dit beteken dat jy verskeie bulte en berge gaan uitklim!
Chemin de Paris (Via Turonensis): Het jy al die bekende Camino-skulp op die sypaadjie voor die Notre-Dame-katedraal in Parys opgemerk? Die Parys-roete spring daar weg en is 913 km lank. Tradisioneel het pelgrims van ander Europese lande hierdie Camino gestap, maar in die afgelope
dekades het dit in onbruik verval. Dis sleg gemerk, maar daar is projekte aan die gang om die roete te laat herleef. Dit loop tot by St. Jean Pied de Port, van waar dit die Franse Camino volg.
Chemin de Vézelay (Via Lemovicensis): Die roete van 900 km spring in die Boergondië-streek weg en is een van die oudste Camino-roetes. Jy kan kies om oor Bourges of Nevers te stap. Deesdae loop pelgrims lang stukke langs die GR654, maar daar is pogings om die oorspronklike roete weer te laat herleef. Die stad Limoges is ’n hoogtepunt.
ITALIë

Italië het verskeie mooi staproetes, soos dié wat die dorpe rondom die Amalfi-kus verbind. Daar is egter ook twee bekende pelgrimsroetes in die land van goeie wyn en pasta.
Die Via Francigena
Die roete is in totaal 1700 km lank en spring in Canterbury, Engeland, weg. Dit volg die pad wat biskop Sigeric die Ernstige in die jaar 880 gevolg het om sy seremoniële serp by die pous in die Vatikaanstad te gaan haal, en het later ewe gewild onder handelaars en pelgrims geword. Dit spring amptelik weg by die Canterbury-katedraal in Kent, Engeland, en loop dan oor dele van Frankryk en Switserland voordat jy omtrent die hele lengte van Italië van bo tot onder kafdraf. Sigeric het die pad wat hy oor 80 dae gevolg het, neergeskryf, en jy kan in sy presiese voetspore volg. Min pelgrims stap die hele Via Francigena, maar die dele in Italië is goed gemerk en loop verby ikoniese dorpe soos Siena, San Gimignano en Viterbo. Die kos is verruklik!
Die Via Francesco
Die roete word ook die Weg van St Francis van Assisi genoem, is 550 km in totaal en loop verby dorpe en plekke wat met die heilige Francis van Assisi verbind word. Dit is dus nie noodwendig ’n roete wat St. Francis self geloop het nie. (Francis van Assisi het wel die Franse roete van die Camino de Santiago afgelê.) Die dorp Assisi is een van verskeie hoogtepunte langs die pad.
NOORWEë
Moenie dink die Nore skrik vir ’n bietjie sneeu nie. Danksy Friluftsloven, ’n wet wat in 1957 ingestel is en op ontspanning in die buitelug fokus, mag jy in Noorweë op feitlik enige plek wild kamp, solank jy nie nader as 100 meter van iemand se woonplek is nie en jou eie vullis wegneem. Die Nore spandeer baie tyd in die buitelug, ook tydens hul sneeumaande.
Die Sint Olav-pelgrimsroete
Die Sint Olav-roete is Noorweë se weergawe van die Camino de Santiago. Sewe verskillende roetes spring in verskillende dele van Noorweë weg, maar eindig almal by die katedraal in Trondheim waar Sint Olav volgens oorlewering begrawe is. Sint Olav Haraldsson (995-1030) was Noorweë se Viking-koning wat die land verenig het en die Christendom na Skandinawië gebring het. Hy is in die Veldslag van Stiklestad oorlede. Pelgrims stap ook dié roetes sedert die Middeleeue, veral om vir genesing te bid, maar in die 1990’s het Noorweë begin moeite doen om dit te laat herleef. Die roetes wissel tussen 200 en 640 km, maar loop dikwels deur onherbergsame gebiede waar jy dae lank nie dorpe sien nie en in die veld sal moet slaap. Dis beslis net vir ervare stappers geskik of wat sneeu gewoond is.
DIE VERENIGDE KONINKRYK
Die Britte het nie soseer pelgrimsroetes nie, maar dis ’n land waar jy verskeie epiese staptogte kan aanpak. Dis betekenisvol dat Barry Stone se boek The 50 Greatest Walks of the World nie minder nie as 30 staptogte in Brittanje insluit. Hier is ’n paar wat die moeite werd is om te oorweeg.
Hadrian’s Wall
Jy kan dié roete, wat die ou Romeinse muur tussen die dorpe Wallsend tot by Bowness-on-Solway volg, van oos na wes of andersom aanpak. Die Romeinse keiser Hadrian het die muur in 122 gebou om aanvalle van buite te ontmoedig en die beweging van mense te beheer. Nadat die Romeine hedendaagse Engeland vaarwel geroep het, het groot dele van die muur vir sewe eeue behoue gebly. John Clayton (1782-1890), die stadsklerk van Newcastle-upon-Tyne, het in 1834 seksies van die muur begin opkoop om dit te bewaar. Die wandelpad is in 2003 gevestig. Die fynproewers meen stappers moet van oos na wes stap omdat die muur in daardie rigting gebou is, maar as jy van wes na oos loop sal die wind van agter wees en sal die son beter wees vir fotografie. Daar is verskeie geskiedkundige besienwaardighede langs die pad en die dorpe het goeie infrastruktuur vir eet en slaap.
Dingle Way
Dié roete in die suidweste van Ierland is een van die gewildstes in die land en loop oor ’n groot verskeidenheid van terreine in die Dingle-skiereiland. Dit begin en eindig by Tralee en is 162 km lank. Jy loop in die voetheuwels van Slieve Mish, op die skouer van Mount Brandon en op die strand by Slea Head. Kyk uit vir 4 000 jaar oue klipstapels sowel as korbeelhuise. Daar is altesaam 2 000 monumente langs dié roete alleen.
Suidwestelike Kusroete
As jy van kuspaaie hou, sal jy dol wees oor die sogenaamde Southwest Coast Path, ’n nasionale roete wat om die kus in die suidweste van Engeland kronkel. Dit strek oor 1014 km tussen Minehead en Poole. Dis een van Engeland se bekendste roetes en verskeie gidsboeke sal vir jou die pad sowel as verblyf- en eetplekke aandui. Onder die talle hoogtepunte is die dorpies Lyme Regis en Abbotsbury, sowel as die fossielwoud naby Lulworth Cove wat 144 miljoen jaar oud is. Dit word beskryf as ’n staptog met ’n verrassing om elke draai.
Wallis se kuspad
Hoewel hierdie roete eers op 5 Mei 2012 amptelik geopen is, bestaan dit uit ’n verskeidenheid kuspaaie wat tussen 2007 en 2014 aangelê is en toe aanmekaargelas is. Jy volg basies die kuslyn van Wallis tussen Queensferry en Chepstow, vir ’n totaal van 1408 km. Stone skryf hieroor: “It’s a rare thing for a walker to say they’ve traced the outline of a nation, the term some give to a successful completion of the Wales Coast Path which follows the entirety of the Welsh coast as best it can from the north to the south.”
Pennine Way
Daar word dikwels na die Pennine-heuwels as “die ruggraat van Engeland” verwys en jy sal ruggraat moet wys as jy hierdie roete wil voltooi. Dit strek oor 431 km tussen Edale en Kirk Yetholm. Tom Stephenson, ’n verslaggewer en ywerige stapper, het in 1935 die roete voorgestel in ’n artikel in die Daily Herald nadat hy glo deur staptogte in die VSA, veral die Appalachiese roete, geïnspireer is. Hy het sy voorstel tot by die parlement geneem. Voor die amptelike opening van die laaste seksie van die roete in 1964 is die Britse Weermag gevra om dit te toets. Soldate is toe in groepe van vyf ingedeel en elke groep het op een spesifieke dag elkeen ’n seksie van sowat 25 km gestap om te kyk of dit haalbaar en goed gemerk is. Hoewel dit nie die langste roete in Engeland is nie, is dit een van die bekendstes en moeilikstes – jy gaan heelwat bulte uitstap. Teen 1990 het sowat 12 000 stappers die hele roete afgelê, en ’n verdere 10 000 dele van die roete.
Rob Roy Way
Rob Roy MacGregor is ’n Skotse volksheld en opstandeling wat sy clan in ’n gewapende stryd teen die Engelse aangevoer het. Dié roete, wat by Drymen begin en 127 km later in Pitlochry eindig, is in 2002 oopgestel en neem jou deur die Skotse Hooglande en meredistrik waar die verhaal van Rob Roy afspeel.
Kus tot Kus
Die roete volg die staptog van Alfred Wainwright, ’n bergklimmer wat baie gedoen het om staptogte in Engeland se Meredistrik te bevorder. Die roete begin by St Bees Head en eindig 309 km verder by Robin Hood’s Bay. Wainwright het tussen 1952 en 1966 ’n reeks van sewe gidsboeke oor die staproetes hier geskryf wat tot vandag toe as gesaghebbend beskou word. Die roete neem jou deur drie nasionale parke agtereenvolgens, die Meredistrik- Nasionale Park, die Yorkshire Dales- Nasionale Park en die North York Moors-park. Die tradisie, wat deur Wainwright voorgestel is, is dat stappers hul gestewelde voete natmaak in die Ierse See by St Bees en weer by die Noordsee by Robin Hood’s Bay.
End to End
Baie beskou dié roete, tussen Land’s End en John o Groats (1 956 km), as die grootste stapuitdaging in die Verenigde Koninkryk. Die amptelike End to End-staproete keer jou weg van die teerpaaie en laat jou op agterpaaie, grondpaaie en tweespoorpaaie loop wat deur die land se heuweldistrikte, die kusgebiede van Devon en Cornwall en die Peak-distrik kronkel. Cicerone het ’n gidsboek oor die roete wat dit in 61 skofte uiteensit, maar wees gewaarsku: Jy sal hiervolgens omtrent 30 km per dag moet aflê.
DIE VSA
Amerikaners hou daarvan om dinge te “supersize”, en hul bekendste staproetes is geen uitsondering nie.
Appalachiese roete
Die AT strek oor 2200 myl (sowat 3800 km) se wildernisgebied aan die oostekant van die VSA en oorkruis altesaam 14 deelstate. Jy spring by Springer Mountain weg en eindig by Mount Katahdin. Stappers slaap in eenvoudige houtstrukture langs die pad of moet wild kamp, en dra hul tent, slaapsak en alle kos saam met hulle. Elke paar dae is daar ’n nabygeleë dorp waar stappers voorrade kan aanvul. ’n Mens kan die roete vanuit die suide aanpak of uit die noorde. Stappers wat die hele roete in een seisoen van sowat vyf maande aanpak, word “thru-hikers” genoem. As jy in die middel begin en die roete eers in die een rigting voltooi en daarna weer vanaf die middel tot by die ander eindpunt, is jy ’n “flip-flopper”.
Pacific Crest Trail
Stappers ken dié roete as die PCT en dit strek oor 2 650 myl (4200 km) vanaf die VSA se grens met Meksiko tot by die grens met Kanada. Dit strek tussen Campo en Manning Park. Jy stap deur die deelstate Washington, Oregon, en Kalifornië. Soos met die AT moet jy alles met jou kan saamdra en vir dae lank op jou eie in die natuur kan oorleef. Cheryl Strayed se boek Wild, en die gelyknamige fliek met Reese Witherspoon, speel op hierdie roete af.
Continental Divide Trail
As jy nog verder wil stap as die AT en die PCT, kan jy dié roete aanpak. Dit loop oor 3 028 myl (4873 km) vanaf die stad Chihuahua op die VSA se grens met Meksiko, tot by Alberta, op die VSA se grens met Kanada. Dit volg die Kontinentale Skeiding, al langs die Rotsgebergtes. Jy loop oor die deelstate Montana, Idaho, Wyoming, Colorado, en New Mexico. Die roete kan wissel omdat dele van die stappaaie nog nie afgehandel is nie.
Triple Crown
Langasems wat al drie hierdie roetes (byna 13 000 km altesaam) suksesvol voltooi het, word deur die Amerikaanse Langafstandstapvereniging vereer met ’n Triple Crown-sertifikaat. Tussen 1994 en einde 2021 het altesaam 525 stappers hierdie sertifikaat ontvang.
KANADA
Die Trans-Kanada-roete
Kanada verdien spesiale vermelding vir sy Trans-Kanada-roete, ook bekend as die Groot Roete, wat oor 27 000km strek. Dit is so ver bekend die langste roete ter wêreld en bestaan uit ’n klomp korter roetes in Kanada wat met mekaar verbind word. Die organiseerders sê 80% van Kanadese burgers woon binne dertig minute van ’n deel van die roete af. Dit begin voor die Spoorwegmuseum in St. John’s, Newfoundland, en loop deur Alberta tot by Edmonton, en dan op deur Brits Columbia tot by Yukon. Die eerste mens wat dit kon voltooi, was Dianne Whelan in 2021, wat dit in ses jaar afgelê het. Dianne het vyf dae per week vir agt maande per jaar gestap. Die res van die tyd het sy gewerk om weer geld in te samel om terug te keer na die roete.
Bronne: caminoways.com; caminoadventures.com; Camino Sanabrés deur John Brierley; The 50 Greatest Walks of the World deur Barry Stone; wikipedia.